Die Naweekpos

Die Naweekpos (1954-1970) is nou aanlyn beskikbaar danksy ‘n samewerkingsooreenkoms tussen Nuuseum en die NG Kerk in SA: Argief.

In 1954 stig Johannes Norval Geldenhuys die Naweekpos, ʼn maatskappy sonder winsmotief met ʼn Boekediens, Toere- en Rolprent-afdeling vir die lewer van dienste aan Christelike opvoedkundige instellings. Hierdie maatskappy druk maandeliks ’n tydskrif “wat interessant en leersaam sal wees.” (Geldenhuys, “Só is Naweekpos begin,” Naweekpos Mei 1964, bl.4).

Jan Scarnell, ʼn ervare joernalis, bied aan om as vrywilliger op te tree as die eerste redakteur van Naweekpos, en Berta Smit en Audrey Blignault sluit by hom aan om op die redaksie te dien. Met hierdie sleutelpersone, groei Naweekpos se leserskap en bied die tydskrif aktuele en prikkelende leesstof vir die publiek.

In Mei 1970 verskyn die laaste uitgawe van Naweekpos. Omdat die blad wat sy inhoud en aanbieding betref naastenby dieselfde doel nastreef as Die Voorligter, is daar ooreengekom dat Naweekpos by hierdie blad ingelyf sal word.

Hierdie versameling is gedigitaliseer dansky ’n skenking van Albert Geldenhuys en sy familie. Die fisiese materiaal is beskikbaar gemaak deur die NG Kerk in SA: Argief. Hierdie items mag slegs vir navorsing en akademiese doeleindes gebruik word en nie vir kommersiële doeleindes nie. Hierdie items mag nie gekopieer, versprei, gepubliseer, uitgestal, gereproduseer of uitgesaai word op enige manier of in enige vorm sonder die skriftelike toestemming van die kopiereghouer nie, naamlik die NG Kerk in SA: Argief. Om na hierdie item te verwys, verklaar dat die digitale dokument bewaar word by die Nuuseum, en verskaf die skakel na die item.

– teks saamgestel uit ‘n verslag van Tiaan Pretorius en Isabel Murray (April 2014)