David Farrant koerante

In Oktober 2023 ontvang Nuuseum ’n skenking van ’n mikrofilm-koerantversameling bekend as die mees omvattende bibliografie van die Suid-Afrikaanse geskiedenis wat nóg saamgestel is (1852- 2008).

Dit kom nadat ons HUB op ’n advertensie reageer het wat deur die Curtis-familie uit Engeland op die Heritage-portaal gelys het oor hulle pa se mikrofilm-koerantmaatskappy, Microfile. Hulle was op soek na ’n instansie wat in hierdie materiaal belangstel om dit te digitaliseer en beskikbaar te maak. Die maatskappy word só beskryf:

“South African history made to order: Afrikaans and English newspapers in all the major cities of South Africa […] the most comprehensive bibliography of South African history ever made.”

Ons het op 19 September na die versameling gaan kyk en ’n skatkis ontdek van koerante wat strek van 1852 tot en met 2008. Die versameling sal Nuuseum in staat stel om koerante te digitaliseer en baie daarvan beskikbaar te maak op ons platform.

Die versameling sluit publikasies in van al die historiese mediamaatskappye in Suid-Afrika insluitend Afrikaanse Pers Beperk, Nasionale Pers, Voortrekker Pers, Die Noordelike Drukpers Maatskappy Beperk, die Argus-groep, Post Newspapers, Robinson en Co., en ook South African Associated Newspapers met koerante van Kaapstad, Johannesburg, Pretoria, Kimberley, Port Elizabeth, Durban, Bloemfontein, Zimbabwe, Namibië, en Zambië. Belangrike publikasies sluit in Die Vaderland (1915-1988); Die Burger (1915-2008); Die Oosterlig (1937-1993); Hoofstad (1968-1983), Dagbreek (1947-1970), Landstem (1947-1970), en Die Transvaler (1937-1993), om maar net ’n paar te noem. Nuuseum gaan fokus op die Afrikaanse publikasies in die versameling.

Die 4.2 ton argief het in Stellenbosch aangekom op 8 November 2023 en ons sal begin met ’n grootskaalse digitalisasieprojek in 2024.